Rekenaarprogrammering

Rekenaarprogrammering (of sommer net programmering) is die ontwerp en skryf van programme in programmeertale deur 'n rekenaarprogrammeur sodat dit op 'n rekenaar uitgevoer kan word. In meer besonderhede is dit die implementering van een of meer verwante abstrakte algoritmes en/of datastrukture, deur gebruik te maak van 'n programmeertaal om 'n werkende rekenaarprogram te skep. Programmering bevat elemente van kuns, wetenskap, wiskunde en ingenieurswese.
Programmering vind plaas in 'n taal omdat rekenaars binêre syfers (bisse) verstaan en mense taal. Die tale is geskep om te dien as 'n taal wat deur beide rekenaars en mense verstaan word. Daar is 'n paar hoof soorte. Daar is op die heel onderste vlak saamsteltaal of assembler en dit is uniek tot elke soort mikroverwerker. Saamsteltaal is baie amper dieselfde as masjientaal maar in plaas van bv. 10110110 te tik word die opdrag as teks geskryf bv. add en 'n ander program vertaal dit na die korrekte binêre kode. Die volgende is tale wat vertaal word. Dit sluit tale soos C, C++, Pascal, Delphi en vele meer in. Hierdie tale het 'n sintaks en mens kan veranderlikes en strukture soos while en for gebruik. 'n Vertaler word gebruik om die tale na masjientaal te vertaal. Dan op die heel boonste vlak bestaan geïnterpreteerde tale. Dis tale wat opdrag vir opdrag uitgevoer word soos Perl, Python en Basic. 'n Program of interpreteerder loop in die agtergrond en ontvang opdragte vanaf die geïnterpreteerde taal en voer die opdragte uit.