Rekenaarprogrammering

Rekenaarprogrammering (of net programmering) is die ontwerp en skryf van programme in programmeertale deur 'n rekenaarprogrammeur sodat dit op 'n rekenaar uitgevoer kan word. In meer besonderhede is dit die implementering van een of meer verwante abstrakte algoritmes en/of datastrukture, deur gebruik te maak van 'n programmeertaal om 'n werkende rekenaarprogram te skep. Programmering bevat elemente van kuns, wetenskap, wiskunde en ingenieurswese.
Programmering vind plaas in 'n taal omdat rekenaars binêre syfers (bisse) verstaan en mense taal. Die tale is geskep om te dien as 'n taal wat deur beide rekenaars en mense verstaan word. Daar is 'n paar hoofsoorte. Daar is op die heel onderste vlak saamsteltaal, dit is uniek tot elke soort mikroverwerker. Saamsteltaal is baie amper dieselfde as masjientaal maar in plaas van bv. 10110110 te tik word die opdrag as teks geskryf bv. "add" en 'n ander program vertaal dit na die korrekte binêre kode. Die volgende is tale wat vertaal word. Dit sluit tale soos C, C++, Pascal, Delphi en vele meer in. Hierdie tale het 'n sintaks en mens kan veranderlikes en strukture soos "while" en "for" gebruik. 'n Vertaler word gebruik om die tale na masjientaal te vertaal.
Op die heel boonste vlak bestaan geïnterpreteerde tale. Dit is tale waar opdrag-vir-opdrag uitgevoer word soos Perl, Python en Basic. 'n Program of interpreteerder loop in die agtergrond en ontvang opdragte vanaf die geïnterpreteerde taal en voer die opdragte uit.